Gigi Strydom het in verskeie provinsies skoolgegaan en het op Stellenbosch studeer. Sy en haar gesin het eers in Kaapstad en Pietermaritzburg gewoon, maar woon nou al vir 'n geruime tyd in Johannesburg. Sy het onder andere vertaalwerk gedoen, rolle vertolk in radioverhale en 17 jaar lank vir die sepie Egoli geskryf. Sy beskryf haarself as aartsnuuskierig. Behalwe haar gesin en twee honde is haar groot liefdes skryf en so wyd moontlik lees. Sy glo dat almal van ons 'n behoefte het om soms die nuus af te skakel en te ontsnap na 'n wêreld van romanse en ware liefde.